Share This Post

Aangevulde realiteit (AR)

Aangevulde realiteit (AR)

Aangevulde realiteit (augmented reality of AR) is een van die nuwe golwe van tegnologie wat oor die laaste paar jaar aan die wêreldbevolking gelewer word. Maar wat is dit eintlik? En hoe kan dit gebruik word om onderrig en leer te bevorder?

Aangevulde realiteit is ’n tegnologie wat beelde of inligting op video’s, foto’s of oogvlakbeelde (head-up displays of HUD’s) toevoeg. ’n Voorbeeld hiervan is die gewilde selfoonspeletjie Pokémon GO. Aangevulde realiteit het die gespreksonderwerp tuis en in die klaskamer geword toe tienderjariges en nie-so-tienderjariges versot geraak het op die Pokémon GO-speletjie. Soos met baie ander tegnologieë het dit in gewildheid toegeneem as gevolg van die vermaaklikheidsaspek daarvan, maar hoe kan hierdie soort tegnologie op die gebied van onderrig ingespan word?

Wat is aangevulde realiteit (AR)?

Aangevulde realiteit is ’n tipe van multimedia wat gebruik kan word om geskrewe inhoud lewendig te maak. Deur van ’n toestel met ’n AR-toep daarop gebruik te maak, verander teksgebaseerde dokumente in ’n multisensoriese ervaring. Die toep word gebruik om die bladsy in te skandeer en sodoende word die 3D-multimediabeelde vanaf die kamera op die werklike sigbare beeld toegevoeg.

As jy byvoorbeeld die lesinhoud van dinosourusse onderrig, skandeer die leerders die bladsy in wat maak dat hulle ’n 3D T-Rex sien. Soos wat hulle die toestel beweeg, begin hulle en die dinosourus om op mekaar te reageer asof die dinosourus in die klaskamer is. Die dinosourus word in die ruimte om hulle toegevoeg wat die ervaring visueel en hoorbaar maak.

Aangevulde realiteit maak dit moontlik om ’n meer outentieke ervaring te hê as wat die teks op sy eie kan lewer. ’n Teks voorsien ’n leerder slegs van taal om die begrip mee te probeer verstaan terwyl multimedia gebruik kan word om ’n groter belangstelling in die inhoud te wek. Met ander woorde, AR laat die inhoud lewendig word; dit is meer opwindend en relevant vir leerders.

Hoe word AR op die oomblik in die onderwys gebruik?

Die gebruik van aangevulde realiteit om onderwysers se vermoëns uit te brei, is een van die beduidende voordele wat die gebruik van hierdie nuwe tegnologie inhou. Dit is nog ’n stuk “gereedskap” in die onderwyser se gereedskapskissie om inhoud oor te dra. Ons moet steeds daarvan bewus wees dat hierdie net één van die hulpmiddels is en onderwysers moet aangemoedig word om verskeie hulpmiddels te gebruik om begrippe oor te dra.

Hier is ’n paar maniere waarop aangevulde realiteit in onderrig gebruik kan word.

  • AR kan gebruik word om leerders te motiveer deur jou interaktiewe lesse meer dinamies te maak.
  • Jy kan AR gebruik om lewe te gee aan moeilike of abstrakte idees en begrippe.
  • AR-gesteunde lesse en 3D-modelle kan die interaktiwiteitsvlak verhoog. Jy kan AR gebruik om perspektief te bou en ook om leerders tot fisiese deelname aan te moedig deur prettige aktiwiteite soos ’n skattejag waar inhoud geheg is aan spesifieke beelde en items in die werklike wêreld in te sluit.
  • Opvoedkundige instellings soos museums kan AR gebruik om meer inligting by hulle uitstallings te voeg om sodoende inhoud makliker verteerbaar te maak.
  • AR-toeps kan gebruik word om onsigbare of baie duur voorwerpe en strukture te help modelleer. Byvoorbeeld, AR kan gebruik word om organe op mede-leerders toe te voeg om te help met die leer van anatomie.

Wat kan die toekoms van AR vir onderrig inhou?

Die gebruik van opvoedkundige AR in die klaskamer kan in die toekoms alledaags word en baie voordele en innovasie in die onderwys teweeg bring.

Met volop AR-versoenbare tegnologie sal opvoeders dit onvermydelik kan benut om programme te bou of te ontwikkel wat hierdie tegnologie inspan tot voordeel van hul leerders: voordele soos om hierdie tegnologie te gebruik vir meer betrokkenheid en om leerders aan te moedig om op verskillende manier te leer. Die vermenging van fisiese en breinoefeninge kan produktiwiteit en retensie van inligting verhoog.

Deur gebruik te maak van die toeps en konsepte wat deur mede-opvoeders ontwerp is, sal opvoeders die aandag van tieners en kinders in hierdie wêreld met al hoe meer afleidings kan boei. Daar sal op al die voordele wat ons bespreek het, gebou word soos wat die tegnologie rondom aangevulde realiteit vorder.

Deur hande te vat met tegnologie-gedrewe inhoud, ondernemings vir e-leer en uitgewers wat in digitale publikasies spesialiseer, sal ons beter kwaliteit inhoud wat gemik is op die algehele verbetering van onderwys kan lewer.

Dit vereis, nogtans, dat onderwysers leer om hierdie tegnologie te gebruik om effektiewe leergeleenthede te ontwerp.

Wat is die voordele van AR?

Daar is baie voordele wat onderwysers kan benut ten opsigte van AR:

Gebruikersinteraksie

Die effektiewe gebruik van AR lei tot verhoogde interaksie tydens lesse as gevolg van die maklike toegang daartoe deur leerders se slimfone. As gevolg van die interaktiewe inhoud kan opvoeders leerders oorhaal om meer met opvoedkundige inhoud om te gaan, selfs wanneer hulle by die huis is.

Koste

Alhoewel die aanvanklike uitgawe ten opsigte van die nodige toestelle en infrastruktuur om AR te akkommodeer en te ontwikkel baie duur kan wees, sou skole kon bespaar omdat hulle nie gedrukte materiaal sal benodig nie. Die meeste AR-inhoud kan deur leerders se eie slimtoestelle verkry word en dit beteken dat daar uiteindelik minder uitgawes sal wees om te verreken.

Relevante konteks

Dit sal moontlik wees om verskeie inhoudsvlakke, van prente tot teks regdeur tot by 3D-beelde, by te voeg. Deur die inhoud in lae uiteen te sit, sal jy as opvoeder begrippe meer kontekstueel relevant kan aanbied, mits daar inhoud wat geskik is vir jou unieke konteks bestaan.

Aanpassing van inhoud

Met die bewese groter betrokkenheid wanneer AR in kurrikula ingesluit word, sal jy jou lesse kan aanpas deur verskillende vlakke van AR-gesteunde leergeleenthede te skep wat gebaseer is op die vermoëns en ontwikkeling van elke leerder.

Watter uitdagings is daar vir AR in Suid-Afrika?

Daar is baie uitdagings wat opvoeders in Suid-Afrika in die gesig staar wanneer dit by die gebruik van AR in die klaskamer kom. Die twee groot kwessies is toegang tot AR-tegnologie en die skep van vakspesifieke inhoud.

Die eerste is miskien die grootste struikelblok om te oorkom, veral met die groot aantal skole in die land wat nie oor genoeg hulpbronne beskik nie. ’n Gebrek aan die middele om in tegnologie en programme te belê, hou die uitrol van hierdie tegnologie landswyd terug.

Die tweede uitdaging is die tekort aan vakspesifieke inhoud wat van AR-tegnologie gebruik maak wat ooreen stem met meer tradisionele onderrigmetodes, veral in Suid-Afrika. Leerders kan onderwerp word aan generiese inhoud wat nie in hul unieke konteks pas nie totdat onderwysers die vaardighede en hulpbronne het om hulle eie AR-inhoud te ontwikkel.

Laaste gedagtes

Alhoewel AR relatief nuut is, lyk dit of dit een van die tegnologieë is wat wêreldwyd alledaags sal word. Onderwys en opleiding kan slegs baat vind by die voordele wat daaraan verbonde is om dit in te sluit as ’n onderrigmetode. Met die verhoogde betrokkenheid en retensie van inhoud wat daarmee saam gaan, sal onderwysers daartoe in staat wees om in die individuele behoeftes van verskillende leerders te voorsien. Soos met enige ander nuwe onderrigmetode sal dit tyd neem om aan te leer en in jou klaskamer te integreer. Maar om saam met die wêreld te verander en in pas te bly met tendense wat die jeug fassineer, sal onderwysers help om relevant te bly in die een-en-twintigste eeu.

Deur: Dr. François Naudé

Klik hier vir ‘n voorskou van die nuwe Fiela se Kind studiegids:

Fiela se Kind studiegids

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.