Share This Post

Maak hoofrekene weer koning in die klaskamer en by die huis!

Maak hoofrekene weer koning in die klaskamer en by die huis!

Aloës Koeglenberg

As ek aan my grondslagfase-jare as kind terugdink, onthou ek glad nie werkkaarte, assesserings, of lang ingewikkelde metodes nie, maar wel my juffrou wat ons op die mat met tellers, apparate, groen bordjies, en flitskaarte besig gehou het. Wiskunde was lekker, want dit was prakties! Daardie jare was opvoeders baie ingestel op die waarde van hoofrekeninge as die grondslag van Wiskundige ontwikkeling. ‘n Onlangse studie het bewys dat kinders wat hoofrekene gebruik as basis vir hul bewerkings baie hoër resultate in assesserings behaal.

Hoekom is hoofrekene so belangrik?

  • Dit kweek ‘n dieper getalbegrip
  • Dit bevorder die spoed waarteen bewerkings gedoen word
  • Dit bevorder goeie geheue
  • Dit verbeter die akkuraatheid van bewerkings
  • Dit bevorder selfvertroue

Stel kinders bloot aan die wonderwêreld van getalle 

In my ervaring, nou as grondslagfase-juffrou en eienaar van ‘n leerondersteuningsmaatskappy, het ek al hoe meer besef dat leerders nie meer die ‘taal’ van Wiskunde verstaan nie. Wiskunde is nie net nog ‘n vak nie, maar moet deel van ons kinders se leefwyse vorm. Vir kinders wat angstig voel oor Wiskunde en voel dat hulle dit nie kan bemeester nie, is dit nodig dat onderwysers en ouers hulle aan die wonderwêreld van getalle blootstel.

Alle kinders is in staat om Wiskunde op skoolvlak te verstaan as die grondslag reg was en vaslegging op ‘n jong ouderdom by die skool, asook by die huis, plaasgevind het. Daar is soms onsettende hoë prestasiedruk met Wiskunde en dit veroorsaak dat kinders angstig voel om nuwe konsepte aan te leer. Wiskunde is ‘n taal op sy eie en ouers moenie bang wees om by die huis ‘Wiskunde te praat nie’.  ‘Hoeveel koppies water maak die ketel vol? Hoeveel vrugte is in die vrugtebak? As jy daardie speelding wil koop wat R300 kos, hoeveel sakgeld moet jy elke week spaar?’  

Tydens my remediërende en ekstra Wiskunde klasse het ek opgemerk hoe ons Graad 4- tot 7-leerders sukkel met die lang maal-, deel-, optel-, en aftrekmetodes, bloot omdat hulle nie vinnig genoeg hoofrekene kan toepas nie. Die leerders waarmee ons werk kom uit verskillende skole en sosio-ekonomiese agtergronde, maar almal ervaar dieselfde frustrasies as dit by Wiskunde kom. Daar is ook ‘n alghele gevoel van angstigheid onder ouers en kinders as dit by Wiskunde kom, nou meer as ooit. As kinders weer die basiesie Wiskunde feite kan aanleer, sal hulle makliker hierdie angstigheid kan oorkom!

Tekens dat jou kind Wiskunde angs ervaar:

  • Vermy Wiskunde take en los dié huiswerk altyd vir laaste
  • Swak gedrag in die klas tydens Wiskunde
  • ‘Vries’ en kan nie beantwoord as daar ‘n Wiskunde vraag gestel word nie
  • Trane en negatiewe houding teenoor wiskundige take
  • Negatiewe gesprekke of woorde oor Wiskunde en eie vermoëns
  • Lae prestasie in toetse

Hoe kan jy jou kind help?

Die belangrikste area waarop ons eerste fokus is om die basiese konsepte van optel, aftrek, maal, en deel vas te lê en daarna kan ons werk aan ander konsepte soos breuke, patrone, meetkunde, data-hantering, ruimtes, en vorms. Die angstige ouers kom na my toe en vra: ‘Hoe moet ek my kind help?’, want hulle verstaan nie altyd die nuwe metodes en tegnieke wat in die skool aangeleer word nie. 

Gebruik hulpmiddels wat geredelik tot jou beskikking is, soos flitskaarte, foon apps, en rekenaarprogramme. Jy kan selfs trappe vir vermenigvuldiging en verdeling by die skool verf.

Waarop kan die ouers by die huis fokus? Die antwoord is, hoofrekene! Dit is baie belangrik om beskikbare hulpmiddels aan te wend om hierdie tipe denke te ontwikkel. In skole skryf leerders tussen Graad 2 en 6 gereelde tafel toetse en gebruik rekenaar programme wat hoofrekene toets. Dit sal jou kind se selfvertroue in hierdie toetse baie verbeter as hy/sy ‘flink-dink’ tegnieke kan toepas! 

Flitskaarte is ‘n uitstekende manier om hoofrekene tegnieke toe te pas. Uit hierdie behoefte aan hoofrekene-hulpmiddels het ek my flitskaartreeks, Flash Basics, ontwikkel. In my praktyk gebruik ek flitskaarte wat ook deur ouers, onderwysers, en leerders gebruik kan word om hoofrekene te ontwikkel. Die flitskaarte is maklik om te gebruik en met gereelde oefening en vaslegging van hierdie vaardighede, sien ons hoe dit leerders help om Wiskunde probleme makliker op te los.

Kom ons maak hoofrekene weer koning in die klaskamer en by die huis!

Oor die skrywer:
Aloës is ‘n leer-entoesias met 12 jaar se onderwysondervinding. As ‘n ma van twee pragtige kinders en ‘n onderwyser, verstaan ​​sy die waarde van ‘n stewige grondslag en dat elke kind se leerervaring uniek is. Dit was die motivering om haar eie tutormaatskappy, The Tutor Hub, in Kaapstad (Die Helderberg) te begin.

Vind meer uit oor The Tutor Hub hier.
Besoek hul Facebook blad hier.

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.